‘n Besoek aan die Victoria-watervalle hoef nie net vir die rykes en beroemdes te wees nie. Wanneer jy by die Victoria Falls Ruskamp in Zimbabwe tuisgaan, sal jy steeds skoon, bekostigbare, ruim selfsorg akkommodasie of kampgeriewe met ‘n meer beperkte begroting kan kry.
Die Victoria Falls Ruskamp is maar net 2 km van die pragtige Victoria-watervalle af. Dit is die kampterrein naaste aan hierdie natuurwonder in Zimbabwe. Die kampterrein is ruim met hope groot bome wat welkome skaduwee bied. Elke kampeerplek het braaigeriewe, ‘n kragpunt en gemeenskaplike ablusiegeriewe (met warm water).
By die Victoria Falls Ruskamp kan gaste tussen die volgende selfsorg opsies kies: 10 selfsorg lodges (twee slaapkamers met 2 enkelbeddens in elke kamer; beddegoed word verskaf; bad en toilet; kombuis met stoof, yskas en alle kookgerei; waaiers in slaapkamers), 15 selfsorg lodges (twee slaapkamers met 2 enkelbeddens in elke kamer; beddegoed word verskaf; bad en toilet; kombuis met stoof, yskas maar geen kookgereedskap nie; waaiers in kamers), 11 enkelchalets (twee enkelbeddens, beddegoed verskaf; gemeenskaplike ablusiegeriewe), 3 dubbelchalets (2 slaapkamers met 2 enkelbeddens in elk; beddegoed verskaf; gemeenskaplike ablusiegeriewe; klein yskas), 2 slaapsale (een vir mans met nege enkelbeddens; een vir dames met ses enkelbeddens; beddegoed word verskaf; gemeenskaplike ablusiegeriewe), asook 12 luukse tente (twee enkelbeddens in elke tent; beddegoed verskaf; beligting in elke tent).
Die “In Da Belly”-Restaurant by die Victoria Falls Ruskamp sit heerlike waarde vir geld maaltye voor. Mamma kan dus ook vir ‘n paar dae uitspan. Die kinders geniet die swembad en die groot bome, en hulle sal dus besig gehou word terwyl jy dalk ‘n boek kan lees. Wasgoed- en bewaringsdienste word ook aangebied.
Die dorpie Victoria Falls bied talle opwindende aktiwiteite aan – van ‘n safari op die rug van ‘n olifant, tot ‘n hele aantal adrenalien-belewenisse. Die “Groot 5 interaktiewe safari” bied waarde vir geld, en beteken dat jy ‘n aantal begeleide wildbesigtigingsritte onderneem. Die adrenalienverslaafdes sal baie van die “white water rafting” op die Zambezi hou, of om die Valle vanuit ‘n mikroligte tuig of helikopter te bekyk. Daar is ook kano- en perd-uitstappies, reksprong (“bungi jumping”) van die Victoria Falls-brug af, “flying fox”, abseiling, vierwielmotorfietse (“quad biking”) en bootritte op die Zambezi. Die dapperes (of die swape, afhangend van jou mening…) kan in die “Duiwel se Poel” (‘n klein rotspoeletjie reg op die rand van die Victoria-waterval) swem.